Racheltjie de Beer
Die legende
Volgens legende was Racheltjie deel van 'n trek van die Oranje-Vrystaat na die Suidoos-Transvaal. Tydens 'n oornagkamp het die lede van die trek besef dat 'n kalf, een van die kinders se gunstelinge, weg was.
'n Soekgeselskap is uitgestuur. Racheltjie en haar sesjarige boetie het ook daaraan deelgeneem. Nadat almal begin terugkeer het na die kamp, het die twee verdwaal. Toe dit donker word, het dit baie koud geword en begin sneeu.
Racheltjie het besef die kans dat hulle die kamp sou vind, is baie skraal. Sy het 'n miershoop wat deur 'n erdvark uitgehol is gevind, haar klere uitgetrek, dit vir haar boetie aangetrek en hom gehelp om in die miershoop te klim. Daarna het sy voor die miershoop se opening gaan lê om die koue uit te hou.
Die volgende oggend het die familie die kinders opgespoor. Racheltjie het nie die nag oorleef nie, maar haar boetie wel.
Ongelukkig is die geskiedenis tydens die periode nie ordentlik gedokumenteer nie en is dit wel moontlik dat die kinders nie regtig bestaan het nie.
Nuwe bevinding dat dit lyk of Rachel se verhaal op dié van Hazel Miner gegrond is
In Oktober 2012 het twee joernaliste hul bevinding gepubliseer dat Rachel de Beer se verhaal merkwaardige ooreenkomste toon met dié van die Amerikaanse sneeu-heldinnetjie Hazel Miner. Hulle het dit bekend gemaak in By, 'n weeklikse bylaag tot die drie Afrikaanse koerante Die Burger, Beeld, en Volksblad
Wat hul teorie blyk te versterk, was die byna gelyktydige verskyning van die twee verhale in die pers. Sover bekend, was die heel eerste verskyning in druk van die Racheltjie-verhaal in April 1921 in die Afrikaanse vrouetydskrif Die Boerevrou. Dit het die lig gesien slegs sowat 'n maand of drie nadat 'n Amerikaanse welsynstydskrif, The North Dakota Children's Home Finder, die (ware) verhaal van Hazel Miner aan sy duisende lesers vertel het.
Die joernaliste het hul bevindings verder op 'n webbladsy uiteengesit onder die titel:Die laaste rits bewyse: Racheltjie is bloot 'n afspieëling van Hazel Miner