Oorsake van die Anglo-Boereoorlog
Die oorsaak van die oorlog is steeds omstrede. Aan die Britse kant was dit 'n polemiek vanaf die oomblik dat dit uitgebreek het. Anti-imperialiste, asook Marxiste, het die oorlog as 'n produk van 'n kapitalistiese sameswering gesien wat daarop gemik was om, deur middel van brute krag, die diamant- en goudvelde van die Vrystaat en Transvaal te bekom.
Moderne interpretasies sien Britse beleid as gekaap deur radikale imperialiste soos Cecil John Rhodes en lordAlfred Milner, wat gevrees het dat die nuut gevonde rykdom van die Boererepublieke die droom van 'n Britse Suid-Afrika sou ontspoor. Rykdom het die Boererepublieke in staat gestel om hulself van Britse voogdyskap te bevry en om hul eie onafhanklike buitelandse beleid te volg, wat die deur kon oopmaak vir Duitse beheer van die belangrike Kaapse roete na Indië.
Brittanje het daarop aangedring dat die Britse onderdane wat op die goudmyne in die Witwatersrandwerk, stemreg moes kry. President Paul Kruger van die Transvaal het geweier en gesê: "Hulle wil nie stemreg hê nie, hulle wil ons land hê". President Marthinus Steyn van die Vrystaat het hom by Kruger geskaar en die lot van die Vrystaat as dieselfde as die lot van die Transvaal beskryf.